Tsjoekotka-skiereiland

Die ligging van die Tsjoekotka-skiereiland in verre Oos-Siberië.
Tsjoekotka-skiereiland in die weste, met Beringstraat in die middel en die Sewardskiereiland van Alaska in die ooste.

Die Tsjoekotka-skiereiland (Russies: Чуко́тский полуо́стров, Tsjoekotski poloe-ostrof), by sowat 66° N 172° W, is die mees noordoostelike uitsteeksel van Asië. Die mees oostelike punt is by Kaap Dezjnef naby die dorp Oelen. Dit word noord deur die Tsjoekotkasee begrens, suid deur die Beringsee en oos deur die Beringstraat, wat dit skei van Alaska.

Dit is die enigste kontinentale deel van Asië wat in die Westelike Halfrond lê en is die mees westelike deel van die aarde – dit lê by die 180º-meridiaan. Die skiereiland is deel van die outonome okroeg Tsjoekotka in Rusland.[1] Dit het twee distrikte: Prowidjenski en Tsjoekotski.

Die skiereiland is tradisioneel die tuiste van inheemse inwoners van Siberië en Russiese setlaars. Dit lê aan die Noordelike Seeroete. Dit is die ligging van die strafkamp/loodmyn waar Cornelius Rost beweer het hy ’n gevangene was, soos beskryf in die boek As Far as My Feet Will Carry Me deur Josef Martin Bauer.

Nywerhede sluit in mynbou (tin, lood, sink, goud en steenkool), jag en vissery.

  1. "Chukchi Peninsula". Encyclopedia.com. URL besoek op September 2010.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy